Half voor die hand liggend die dae in ‘n jaar. Maar ook betekenisloos, so op sy eie. My rede hiervoor was ‘n idee wat lankal in my kop rondspoel, maar nog nie gerealiseer het nie. ‘n Idee wat eers werklik voet kan vind aan die begin van ‘n jaar – want dis makliker om van een tot 10 te tel as om by vyf te begin en tot 15 te tel.
‘n Tyd terug het ek op ‘n fotografie webwerf gesien hoe mense ‘n uitdaging stel om ‘n foto vir elke dag van die jaar te neem. Dit het my toe laat begin dink om die rigting in te slaan – nie met foto’s nie, maar wel met stories of ander skrywes.
Nou mag jy as leser reeds opgelet het dat ek al ‘n goeie 20 skrywes agter is. Laat ek jou dan net vra: het jy al jou nuwejaarsvoornemens uitgevoer?
Liewer laat as nooit – nou net sien vir uitvoer en deurvoer (en inhaal).
Sover soos die kwart betref, miskien sal ek dit skryf, miskien nie. Ek wou eintlik die blog net 365 noem, maar wordpress vereis minstens vier letters/syfers in die naam. En daar het jy dit nou.
Die reëls
Soos met enige uitdaging, is daar sekere reëls hieraan verbonde. Dis reëls wat ek self opgestel het vir my eie uitdaging, so dit is aanpasbaar (en breekbaar).
- Daar moet 365 skrywes wees – dit hoef nie te beteken daar moet elke dag een wees nie. Soms kan ek van die werk af skryf, soms van die huis af. Soms glad nie. Op die stadium is my huis bandwydte byvoorbeeld deur my vrou opgespeel op Farmville, so bydraes oor naweke is uit tot die einde van die maand.
Dis vir eers die reëls – as nog nodig is sal ek dit later bysit.