Ek het onlangs ‘n skrywe gelees waarin iemand bespeigel het oor die betekenis van vraende geloof van kinders. Dat Jesus dalk bedoel het dat geloof soos ‘n kind eerder alles bevraagteken as om alles bloot te aanvaar. Maar as iemand wat self ook kinders het, en self deur die hoekom fase is (en wag vir die volgende een om te begin) het ook al gesien dat “hoekom” selde by hulle as ‘n intelligente vraag bedoel word.
Om dus soos ‘n kind alles te bevraagteken is ‘n doodloopstraat; uiteindelik is heeltemal te veel hoekoms bloot net lippe flap, of erger nog, ‘n aanloop tot teëpraat. Ek het ‘n vermoede Jesus het maar bloot bedoel glo met die onskuld van ‘n kind.
So glo my kinders nog steeds (met verskillende grade van oortuiging, soos hulle ouer word begin hulle al hoe meer goed in twyfel trek) dat ek ‘n geheime sending na die buitenste ruim gedoen het tydens my nasionale diensplig. Vir die SA Vloot.
As dit darem nie die tipe geloof is wat Christenskap vra nie, dan weet ek nie meer nie.
So, in kort opgesom, ek dink glo soos ’n kind beteken bloot dat jy enige bullshit soos soetkoek moet opvreet.
Ek dink ook hierna hetJesus se vergelyking vinnig brieke gekry. Want ek kan nie dink hy sou bedoel wees soos ’n kind nie. Ek het al gekyk wat gebeur as ’n klomp klein kindertjies saam is. Lord of the flies, hier kom ons. Iets soos apartheid sou klein katjies gewees het in vergelyking.
Dan moet ek tog sê dat die meer middeleeuse benadering (of sterk fundamentalisties Christelik in vandag se samelewing) tog baie kinderlik is. Los ‘n groepie kinders saam vir ‘n paar dae (sonder toesig), gee hulle genoeg vuurmaakhout en ‘n boksie Lions, en iemand sal gou genoeg op die brandstapel eindig…