365ennekwart

January 21, 2010

somerreën in die kaap

Filed under: Gedigte — 365ennekwart @ 12:30 pm

‘n motreën stuif neer
omhels in die warmte
van januarie
slaan die reuk van nat teer
verrassend welkom op
vanaf kaapse strate

January 20, 2010

Klasie wie?

Filed under: Klasie — 365ennekwart @ 9:47 am
Tags: ,

Klasie is ‘n inspirasie.

In die woorde van Kris Kristofferson, “he’s a devil, he’s a saint.”

In ‘n beskrywing wat enige ouer sal verstaan, hy’s ‘n driejarige.

Hy is my baba, my seuntjie, my eie, enigste bloedkind (die twee sussies was deel van ’n package deal).

Klasie sien die lewe uit ‘n ander perspektief, en net soms kry ek deel in daardie oogpunt – ‘n storie in die kleine; soms ‘n komedie, soms, tragedie. Dis’n hoek wat nog na alles opkyk, alles nuut sien.’n Hoek waar gewone mense met foute anders is – ek is ’n held, al het ek lankal my eie kleivoete ontdek.

Om dus – so elke nou en dan – vir Klasie (’n kortnaam, cutenaam wat ons nie regtig gebruik nie) in te span as die onderwerp van ‘n storie, of die storie aan hom op te dra, maak sin – hy verteenwoordig aljimmers ’n groot klomp leestekens in my lewe!

Kinderlike geloof

Filed under: Rubrieke — 365ennekwart @ 8:52 am
Tags: , , , , ,

Ek het onlangs ‘n skrywe gelees waarin iemand bespeigel het oor die betekenis van vraende geloof van kinders. Dat Jesus dalk bedoel het dat geloof soos ‘n kind eerder alles bevraagteken as om alles bloot te aanvaar. Maar as iemand wat self ook kinders het, en self deur die hoekom fase is (en wag vir die volgende een om te begin) het ook al gesien dat “hoekom” selde by hulle as ‘n intelligente vraag bedoel word.

Om dus soos ‘n kind alles te bevraagteken is ‘n doodloopstraat; uiteindelik is heeltemal te veel hoekoms bloot net lippe flap, of erger nog, ‘n aanloop tot teëpraat. Ek het ‘n vermoede Jesus het maar bloot bedoel glo met die onskuld van ‘n kind.

So glo my kinders nog steeds (met verskillende grade van oortuiging, soos hulle ouer word begin hulle al hoe meer goed in twyfel trek) dat ek ‘n geheime sending na die buitenste ruim gedoen het tydens my nasionale diensplig. Vir die SA Vloot.

As dit darem nie die tipe geloof is wat Christenskap vra nie, dan weet ek nie meer nie.

So, in kort opgesom, ek dink glo soos ’n kind beteken bloot dat jy enige bullshit soos soetkoek moet opvreet.

Ek dink ook hierna hetJesus se vergelyking vinnig brieke gekry. Want ek kan nie dink hy sou bedoel wees soos ’n kind nie. Ek het al gekyk wat gebeur as ’n klomp klein kindertjies saam is. Lord of the flies, hier kom ons. Iets soos apartheid sou klein katjies gewees het in vergelyking.

Dan moet ek tog sê dat die meer middeleeuse benadering (of sterk fundamentalisties Christelik in vandag se samelewing) tog baie kinderlik is. Los ‘n groepie kinders saam vir ‘n paar dae (sonder toesig), gee hulle genoeg vuurmaakhout en ‘n boksie Lions, en iemand sal gou genoeg op die brandstapel eindig…

klasie

Filed under: Gedigte,Klasie — 365ennekwart @ 8:38 am

klop klop klasie
skink vir my ‘n glasie
dan drink ons oppie nasie

klap klap klasie
kyk waar hol die hasie
ek dink hy het purgasie

klip klip klasie
kyk hier issie stasie
maar nêrens issie baas’ie

kiek kiek klasie
oppas vir daai blasie
jy’s noggie goed verbaas’ie

klik klik klasie
kom ons kry ’n plasie
waar dit nie so baie raas’ie

Theme: Rubric. Blog at WordPress.com.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.